GAUTENG. – Die Volunteer Emergency Medical Response Unit (VEMRU) waarsku mense met asma om seker te maak hul pompies nie leeg is nie en om altyd ’n ekstra pompie byderhand te hê. Die waarskuwing volg nadat ’n asmapasiënt op 20 Oktober in Faerie Glen, Pretoria-Oos, ’n hartstilstand gehad en later in ’n privaat hospitaal dood verklaar is. Volgens VEMRU is die pasiënt se asmapompie ná die voorval leeg gevind.
VEMRU sê hulle is aanvanklik ontbied omdat die pasiënt, wat bekend was as iemand met asma, gesukkel het om asem te haal. ’n Paramedikus wat van diens af was, het kort daarna aangemeld dat die pasiënt se hart gaan staan het en het met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin. VEMRU-beamptes, ER24 en PVES het gevorderde hartlewensondersteuning toegepas, onder meer met meganiese borskas-kompressies. Hoewel daar aanvanklik merkbare verbetering was, is die pasiënt met voortgesette KPR na ’n nabygeleë privaat hospitaal vervoer. Die pasiënt se toestand het kort ná aankoms egter vinnig verswak en is dood verklaar.
VEMRU het sy meegevoel aan die oorledene se familie betuig en beklemtoon dat mense met asma hul medikasie beskikbaar moet hou.