GAUTENG. – Drie mense tussen die ouderdom van 18 en 20 is Saterdagaand in Newclare doodgeskiet, terwyl twee ander, onderskeidelik 18 en 23 jaar oud, in die skietery gewond is.
Kapt. Tintswalo Sibeko, polisiewoordvoerder, sê die polisie het omstreeks 21:30 ’n klagte oor ’n skietery ontvang en na die toneel gehaas. Gemeenskapslede het beamptes na ’n woonstel gewys waar verskeie mense na bewering geskiet is. Die polisie het die woonstel binnegegaan en die drie slagoffers aangetref. Paramedici het hulle op die toneel dood verklaar. Die twee ander slagoffers is vir verdere mediese behandeling met skietwonde na ’n hospitaal vervoer.
Die verdagtes is steeds onbekend. Enigiemand met inligting wat die polisie met die ondersoek kan help, word gevra om na vore te kom.





