KWAZULU-NATAL. – Drie mense is Donderdagaand kritiek beseer toe ’n ligte motor teen ’n brugreling op die N2 naby Tinley Manor gebots het. Die bestuurder was in die wrak vasgekeer, terwyl een passasier uit die voertuig geslinger en aan die onderkant van die brug beland het.
Kelsey Jae-Meyrick, IPSS Medical Rescue-woordvoerder, sê die bestuurder is deur die KwaDukuza-brandweer uit die wrak bevry en deur ’n gevorderde lewensondersteunende-paramedikus gestabiliseer. Die bestuurder is daarna na ‘n hospitaal vervoer.
’n Toustelsel is deur IPSS Search and Rescue-vrywilligers opgestel om die uitgeslingerde passasier saam met die KwaDukuza-brandweer vanaf die onderkant van die brug na die padoppervlak te neem. Die passasier is daarna deur ’n ander private ambulansdiens vervoer, terwyl die derde insittende ook op die toneel gestabiliseer en vir verdere behandeling vervoer is.

