WES-KAAP. – Drie mense is dood en 12 ander is Dinsdagmiddag vir beserings behandel ná ’n chemiese voorval op ’n plaas noord van Heroldsbaai, naby George. Brandbestryders van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het Dinsdagmiddag die George-munisipaliteit bygestaan om die voorval onder beheer te bring.
Marais Kruger, uitvoerende burgemeester van die miunisipaliteit, het gesê die getalle is vroeër deur die polisie bevestig. Hy het medelye met die families, vriende en kollegas van die drie oorledenes uitgespreek. Volgens inligting van die eerste mense op die toneel was plaaswerkers glo besig om ’n groot opgaartenk met ’n mengsel van chemikalieë, waaronder fosforsuur, skoon te maak toe die voorval plaasgevind het. Verskeie werkers wat probeer help het, het ook inasemingsprobleme opgedoen. Sommige is op die toneel behandel, terwyl ander na nabygeleë hospitale vervoer is.
Die oorledenes se oorskot is deur George se brandbestryders ontsmet voordat forensiese patologiedienste hul liggame verwyder het. Chemiese absorbeermiddels is oor die geraakte gebied versprei om die gevaarlike vloeistof te bedek en te beperk. Die toneel bly afgesper terwyl die opruimingsproses voortgaan. Brandbestryders van die munisipaliteit sou vanoggend terugkeer vir die finale ontsmetting en sanitasie.
