30 ‘dates’ in 30 dae – skrywer fokus op sosiale eksperimente

Lees ook :

Marije Esther (33), van Nederland, het haar dié jaar in Kaapstad gevestig.  Nie net het sy van vastelande verskuif nie, maar sy het ook besluit sy spits haar nou voltyds toe op skryfwerk – haar droom. Sy doen graag 30 dae lange sosiale eksperimente en een van dié interessante eksperimente was “30 afsprake in 30 dae”.

“Ek het in Groningen in die noorde grootgeword. Ons het redelik baie getrek as gevolg van my pa se werk. Na skool het ek modetegnologie aan die Universiteit van Amsterdam studeer. Ek het ’n tyd in Londen spandeer en ook in Australië. Ek het gehou van die buitelewe en om aktiewe dinge te doen. Die tweede keer toe ek Kaapstad toe kom, het ek besluit hier wil ek bly.”

Vind iets om oor te skryf

Oor haar “30 afsprake in 30 dae”, sê sy sy het nog altyd rondgespeel met die idee om fiksie en kreatiewe skryfwerk te kombineer. “Ek het eers permanent in ’n kantoor gewerk en besef dit is nie vir my nie. Ek wil doen waarvoor ek lief is en dan my lewe van daar af bou.”

Om haar kreatiewe stem te ontdek, is vir haar baie belangrik en sy hoop dat sy eendag voltyds ’n inkomste daaruit kan verdien. “Ek dink my ‘stem’ is iets tussen humor en die verkenning van jou gedagtes, asook om mense te laat dink oor goed.”

Om haar skryfwerk aan die gang te kry, moes sy eers iets kry om oor te skryf. “Ek het nog altyd hierdie vrees gehad vir skryf, omdat ek nie geweet het waaroor ek sal skryf nie. Die grootste probleem vir my met skryfwerk is die uitstel daarvan. So ek het besluit skryf oor wat jy weet.” En so is die “30 afsprake in 30 dae” gebore.

Die “wonderlike idee” raak toe ’n voltydse werk

“Nou dink jy dalk; dis so snaaks/aaklig. En jy is nie verkeerd nie. Wat as ’n wonderlike idee begin het, was ’n voltydse werk. Ek het dit nie so goed deurdink nie. Ek is egter geneig om die beste te leer deur beproewing en foute te maak. Entoesiasties het ek begin ‘swipe’, gevolg deur ’n bietjie strategiese tydbestuur. Om op 30 afsprake in 30 dae te gaan, het my baie geleer oor ‘dating’ en hoe ek eintlik nie baie direk was nie, maar meestal net afgestomp.”

Haar skryfwerk is interessant, met ’n tikkie humor en sy het baie vroeg in die eksperiment geleer daar sal moet reëls wees. “’n Ordentlike profiel, met ’n paar woorde om jou foto’s te vergesel. Dit klink voor die hand liggend, maar nie almal het dit uitgepluis nie. Ek is nie ’n model nie, maar mooi genoeg om ’n paar afsprake vas te pen, maar 30 afsprake in 30 dae het van my vereis om ’n bietjie meer buigsaam te wees met my standaarde. Die opstel van die bio was die moeilike deel. As ek dit kon regkry, kon die eksperiment eintlik ’n paar resultate lewer. Ek het gegaan vir snaaks, vreesloos, fiks en durf ek sê intelligent (genoeg).

Regte lewe = regte mense

“In daardie stadium was ek nie bang om myself te wees nie en te skryf oor wat in my lewe gebeur. Ek was meer afgestomp en wou net die eksperiment doen. Noudat ek weekliks begin skryf oor die lewe, is ek versigtiger. Ek wil nie iemand anders seermaak deur wat ek skryf nie. Ek het sensasionele stories van vreemde afsprake, maar baie van die mense is mense in die regte lewe. Dis vir my maklik om fiksie te skryf, maar hierdie moes ek op ’n manier doen wat steeds opwindend en interessant was. Dis ’n baie fyn lyn.”

Kies jou eie geluk

Vir ’n 33-jarige “blonde, bevoorregte vrou van Amsterdam” het sy al redelik baie van die lewe gesien. “Met my vorige verhouding het ek my laagste punt bereik. Ek het toe besef jy kies jou eie geluk. Ek probeer altyd terugkeer daarnatoe. Mens moet altyd empatie hê met die ander persoon, want selfs al is jy seergemaak, moet jy kan dink wat het in dié persoon se lewe gebeur om hom so te maak? As hy nie die een simpel ding gedoen het nie, dan sou ek dalk in die verhouding gebly het. Die skryfwerk het ook baie gehelp en natuurlik introspeksie, terapie, meditasie en om elke dag dankbaar te begin.”

Haar droom is – soos so baie skrywers daarbuite – om ’n gepubliseerde skrywer te wees en om bydraes te maak vir publikasies wat vir haar saak maak. “Ek wil my skryfstyl verbeter en ook oop bly vir nuwe ervarings.” Sy is baie bewus daarvan, dat sou sy “die een” ontmoet dit haar skryfwerk sal beïnvloed. “Nou skryf ek net so baie as wat ek kan. Daar sal altyd iets wees om oor te skryf, daar is so baie goed wat in ons kop aangaan en daar is altyd maniere om dit humoristies aan te bied.”

Wat sy geleer het

Wat het sy oor mans geleer na dié eksperiment? “Vrouens benader ‘dating’ baie anders as mans. Jy ontmoet die ou en jy gee hom al jou aandag. Jy fokus net op hom, want wat as dit iets kan raak? Mans is nie so nie. Vrouens gaan in hierdie liefdestonnel in, waar mans meer hulle oog op die prys het. Terwyl ek die eksperiment gedoen het, het ek later meer gefokus op hoe om my tyd te bestuur, want ek moes letterlik tydgleuwe vooruit beplan. Ek het ook redelik vroeg besef ek kan nie alkohol drink op ’n afspraak nie – dit veroorsaak dat jy nie nugter kan dink nie. Ek het al hierdie reëls gehad. Ten minste een uur, hoogstens drie. En ja, soms was daar ’n tweede afspraak. Omdat ek nie so gefokus was op die uitkoms van elke afspraak nie, kon ek meer op die oomblik fokus. Ek kon interessante vrae vra en dit het dit soveel makliker gemaak.”

Stuur die regte vibrasie uit

Ook, sê sy, is die ‘vibe’ wat jy uitstuur op ’n afspraak baie belangrik. “Ons is geneig om gou ‘clingy’ te raak en dan sit dit die ander persoon af. Jy hoef ook nie altyd net op ’n afspraak te gaan omdat dit ’n verhouding moet raak nie, maar dit kan net wees om nuwe mense te ontmoet, nuwe plekke te sien, nuwe ervarings te hê.”

Tog moet jy mense ’n kans gee, kyk wat gebeur en jou instinkte vertrou. “Jy sal dalk nie dadelik weet of die persoon ‘die een’ is nie, maar jy sal wel dadelik weet as hy dit nié is nie.”

Vir haar is mense wat hulle emosies op ander uithaal ’n groot rooi vlag. “Ek hou ook nie van ‘breadcrumbing’ waar jy nou aandag gee en dan vat jy jou aandag weg en gee dit weer nie. Dis ’n ja of ’n nee. En dan natuurlik dat jy moet kan eienaarskap neem van jou aksies. As iemand nie die beste in jou uitbring nie, dan is hy of sy nie jou persoon nie.”

Maak jouself oop vir nuwe mense

Sy is steeds op Hinge en Bumble, maar gebruik dit deesdae hoofsaaklik om nuwe mense te ontmoet. “Ek is ook op groepe vir surf, bergklim, gaan stap. Ek het besef ek het ook nie genoeg vrouevriendinne nie, so ek het moeite gedoen om nuwe vriendinne te maak. Ons sal nou goed gaan saamdoen, maar om dit te kon doen, moes ek myself oopmaak vir nuwe mense.”

Dié skrywer van Amsterdam sê Kaapstad het haar asem weggeslaan. “Ek het nie besef so ’n paradys bestaan nie. Dit het die goed en die sleg, die rykdom en die armoede. Ek besef net elke dag hoe gelukkig ek is om hier te kan woon en te fokus op my droom, wat is om te skryf.”

Volg Marije hier:

Webtuiste: https://30day-habit.com

Instagram: https://www.instagram.com/30day.habit/

LinkedIn: https://www.linkedin.com/in/marije-rottier-b805ab2a/

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief