“Vandag, lof God, is wyn vir die eerste keer van Kaapse druiwe gemaak.”
Met hierdie inskrywing van Jan van Riebeeck in sy dagboek op 2 Februarie 1659 is die Suid-Afrikaanse wyn industrie gebore en maak dit Suid-Afrika die enigste land wat die begin van sy wyn industrie kan merk.
In die Stellenbosch area is wynplase volop en ʼn klipgooi van mekaar af. Dit is maklik om van die een plaas na die ander te dwaal en die ryke Suid-Afrikaanse erfenis eerstehands te ervaar. Suid-Afrikaanse wyne pryk nie net nasionaal op wyn rakke en in restaurante nie, maar internasionaal is ons wyne ook gesogd en stap gereeld met verskeie toekennings weg.
LEWENDE GESKIEDENIS
Op Rust en Vrede landgoed se titelakte pryk die datum, 12 Maart 1694 toe die eiendom deur Goewerneur Simon van der Stel aan die eienaars toegeken is. Die Kaaps Hollandse styl gebou dateer terug na 1780 en dra Nasionale Monument status.
Die oorspronklike wynkelder is nou die Rust en Vrede Restaurant. Huidige eienaar, Jean Engelbrecht, woon steeds in die herehuis waar hy grootgeword het. Sy ouers het die eiendom bekom in 1977 en in 1978 het die landgoed se eerste oesjaar die lig gesien.
Engelbrecht sê trots dat Rust en Vrede se wyne oor die jare van krag tot krag gegaan het en dat hy bevoorreg is om Rust en Vrede sy tuiste te noem. Hy prys ook die Rust en Vrede span se samewerking.
Rust en Vrede landgoed is prentjie mooi, bied ʼn uitsig oor Tafelberg en is ewe gewild onder buitelandse en plaaslike besoekers. Die foto fanatikus sal mik en druk geleenthede oral op die landgoed vind. ʼn Oudtydse sjarme verwelkom die besoeker en die geskiedkundige geboue deel graag die landgoed se 300 jaar oue storie.
PROE EN EET



Die proe lokaal is gerieflik oop sewe dae ʼn week en besoekers kan die volle reeks wyne proe. Jou proe ervaring word professioneel deur ʼn goed opgeleide personeellid aangebied. Dwaal gerus op versoek vir ʼn informele toer na die ondergrondse kelder waar jy weer eens ʼn treë in geskiedenis kan neem. ʼn Ryke versameling wyne, sommige goed verouderd, van Suid-Afrika en die buiteland pryk hier.
Die proe lokaal is modern, ruim, interresant en die spasie bied ook ʼn meer intieme opset van tafels nader aan die historiese kelder.
Rust en Vrede se restaurant is hier, in die prolokaal en gaste kan ʼn vol gelaaide spyskaart, ʼn uithaler maaltyd en uitstekende wyne verwag. Jou ete word verryk deur die kombinasie van die wyn en kos. Die sjef en personeel verdien beslis ʼn pluimpie vir die Rust en Vrede ervaring in die proelolaal en restaurant.
ʼn Reuse klavier pronk in die lokaal. Elke Vrydag en Saterdag speel ʼn kunstenaar die klavier, wat bydra tot die aangename atmosfeer van die wynkelder.





TEN SLOTTE
Rust en Vrede landgoed spreek van erfenis en geskiedenis. Die landgoed se produksie lyn is van hoë gehalte en hierdie kwaliteit wyne word op die landgoed gemaak, van die groeiproses tot die bottelering. Rust en Vrede is bekend vir sy portefeulje van robuuste rooiwyne en fokus op die produksie van die Cabernet Sauvignon en Syrah kultivar.
Die langoed slaag suksesvol daarin om my sy volronde wyne die Stellenbosch-terroir te weerspieël.
Rust en Vrede is verbind tot volhoubaarheid en het Cabernet Sauvignon-vate hergebruik om ʼn deel van die dak in die alkoof te bou. Daarbenewens herwin die landgoed hulle vate vir hul pot gestileerde brandewyn.
Dankie aan Jason van Rust en Vrede vir die deel van jou kennis en stories, die toer en uitstekende diens. Dit was ʼn reuse bederf om Rust en Vrede deur jou oë te ervaar.
Dwaal gerus van wynplaas tot wynplaas, wees ʼn toeris, proe ons top gehalte Suid-Afrikaanse wyne, hoor die stories van die mense wat hierdie industrie so suksesvol maak, word deel van hulle passie en ontdek die mooi van ons land.


Drink jou wyn en spiritualieë verantwoordelik, en onthou, dit is streng verbode vir enigiemand onder 18!
©





