GAUTENG. – Terwyl toegang tot veilige drinkwater steeds ’n uitdaging vir talle Suid-Afrikaanse gemeenskappe is, het ’n matriekleerling van Johannesburg haar kennis van wetenskap ingespan om watergehaltetoetsing meer bekostigbaar te probeer maak.
Kimaya Chana, ’n leerling aan die tuisonderrigkollege Wolsey Hall Oxford, het vir minder as R6 000 ’n prototipe ontwikkel wat tekens van bakteriële besmetting in water kan opspoor.
Die toestel maak van fluoressensietegnologie gebruik, waar lig gebruik word om sekere aanduidings van besmetting op te spoor.
Eskom sê Chana se navorsing het getoon dat die toestel konsekwente metings kon lewer wat met dié van kommersiële laboratoriumtoerusting vergelykbaar is.
Chana gaan haar uitvinding komende week by die internasionale SciFest-wetenskapskou in Dublin, Ierland, ten toon stel.
Nog ’n jong Suid-Afrikaner met ’n slim idee
Layla Moolla, ’n graad 11-leerling aan Star College in Kaapstad, gaan Suid-Afrika ook by dié geleentheid verteenwoordig.

Sy ondersoek hoe verf wat met miselium, die netwerk van draadjies waaruit ’n swam bestaan, vervaardig word, gebruik kan word om sinkplate beter te beskerm en sodoende tot duursamer, bekostigbare behuising by te dra.
Albei leerders is deur die Eskom Expo for Young Scientists gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig.
Die internasionale geleentheid vind van 1 tot 5 Desember plaas, met die beoordeling van projekte en die prysuitdeling op 4 Desember.
Bronne: Eskom, Eskom Expo for Young Scientists