Die polisie het 331 stemlokale landwyd as hoërisiko geïdentifiseer voor Woensdag se plaaslike regeringsverkiesing.
Brig. Athlenda Mathe, SAPD-woordvoerder, sê die risiko hou onder meer verband met moontlike diensleweringsprotesoptogte, gemeenskapsonrus en ander veiligheidsvoorvalle. KwaZulu-Natal het die meeste hoërisiko-stemlokale -165, waarvan 124 in die eThekwini-distrik geleë is. Gauteng volg met 119, waarvan 75 in Johannesburg, 23 in Ekurhuleni en 14 in Tshwane is. In die Wes-Kaap is 33 stemlokale, almal in die Stad Kaapstad, as hoërisiko geklassifiseer. Mpumalanga het 11 en die Oos-Kaap drie. Geen hoërisiko-stemlokale is in Noordwes, Limpopo, die Noord-Kaap of die Vrystaat aangeteken nie.
Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê die polisie is gereed om die verkiesing veilig en vreedsaam te laat verloop. Operasionele planne sluit verhoogde polisiesigbaarheid, mobiele operasionele spanne en die bystand van gespesialiseerde eenhede in. Die SAPD werk saam met die Suid-Afrikaanse nasionale weermag, metropolisie en die staatsveiligheidsagentskap.
Die polisie het ook kommer uitgespreek oor aanvalle en moorde op politieke ondersteuners, partylede en wykskandidate. Volgens die jongste Natjoints-syfers is 139 verkiesingsverwante strafsake landwyd geregistreer, 48 verdagtes is in hegtenis geneem en 25 sake is reeds in die hof ingeskryf. Die veiligheidsstrukture doen ’n beroep op politieke partye, kandidate en kiesers om geweld en intimidasie te vermy en die verkiesingsproses vreedsaam te laat verloop.