Brekende Nuus
Nuus

4 sterf in Bloemfontein in beweerde gesinsmoord

Foto: Ter illustrasie

VRYSTAAT. – Vier mense, onder wie twee kinders van 15 en vier jaar oud, is dood nadat hulle Woensdagoggend (4 November) in ’n skietvoorval in Grassland 2, Bloemfontein, gewond is. Die polisie ondersoek die voorval as ’n driedubbele moord wat met huishoudelike geweld verband hou, asook ’n geregtelike doodsondersoek.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die polisie is kort ná 08:00 na ’n RDP-huis ontbied, nadat bure skote gehoor het. Met hul aankoms is die liggame van ’n 35-jarige man, ’n 33-jarige vrou en hul 15-jarige dogter in die huis aangetref. Hul vierjarige seun is deur paramedici na ’n plaaslike hospitaal vervoer, maar het later ook aan sy beserings beswyk. Al vier slagoffers het skietwonde aan die kop gehad. 

Volgens die polisie was die 35-jarige man ’n veiligheidsbeampte wat by die Bloemfonteinse-Landdroshof se kantoor in Bloemspruit gestasioneer was. Hy het die oggend aan diens gegaan en ’n maatskappyvuurwapen uitgeboek. Die vuurwapen is langs sy liggaam gevind.

Die ondersoek na die moorde en geregtelike doodsondersoek is aan lt.kol. Rankhala David Ramasoala toegewys. Enigiemand met relevante inligting kan hom by 082 427 7390 bel.