MPUMALANGA. – Vier mense het vroeër vandag hul lewens verloor in ‘n botsing tussen ‘n steenkoolvragmotor en twee minibustaxi’s op die N4 naby Rivulets, in die rigting van Mbombela. Drie van die slagoffers is dood nadat een van die taxi’s ná die botsing aan die brand geslaan het.
Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê voorlopige inligting dui daarop dat die vragmotor, wat vanaf Johannesburg na Mbombela onderweg was, eers teen die agterkant van ‘n taxi met ‘n sleepwa gebots het. Die vragmotor het daarna vermoedelik beheer verloor, in die aankomende verkeer beland en teen ‘n tweede minibustaxi gebots. Die drie slagoffers wat in die brandende taxi was, is op die toneel dood. ‘n Vierde persoon is in die pad aangetref, maar dit is nog onbekend in watter voertuig die persoon was. Ondersoekers vermoed die slagoffer is tydens die botsing uit ‘n voertuig geslinger.
Emer-G-Med het saam met die polisie, brand-en-reddingsdienste en ander nooddienste op die toneel gewerk om beseerdes te stabiliseer voordat hulle na hospitale vervoer is. Die diens doen ‘n beroep op motoriste om veral gedurende die vroeë oggendure versigtig te bestuur wanneer sigbaarheid swakker is en moegheid ‘n groter risiko inhou. Padgebruikers word aangeraai om veilige volgafstande te handhaaf en nie gevaarlike verbysteekmaneuvers uit te voer nie.


Foto’s: Moeti Mmusi





