Brekende Nuus
Nuus

4 vroueliggame binne 2 mnde. in Kempton Park gevind

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die polisie het ’n multidissiplinêre taakspan saamgestel om die omstandighede van die dood van vier vroue wie se liggame binne sowat twee maande in dieselfde gebied in Kempton Park gevind is, te ondersoek.

Nasionale polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, sê die jongste liggaam is Saterdagaand gevind. Die liggame is in die omgewing van Rhodesfield ontdek en voorlopige inligting dui op kommerwekkende ooreenkomste in die omstandighede rondom die sterftes. Volgens die polisie is die vroue se liggame halfnaak gevind en het hulle sigbare kneusplekke gehad. Die plekke waar die liggame gevind is, is ook in dieselfde omgewing. Die polisie beklemtoon in hierdie stadium kan nie bevestig word dat die sterftes met ‘n reeksmoordenaar verbind kan word nie, alhoewel die ooreenkomste kommerwekkend genoeg is om inwoners te waarsku en die ondersoek te verskerp.

Vroue in en om Kempton Park, veral in die Rhodesfield-gebied, word aangeraai om uiters versigtig te wees. Hulle moet vermy om alleen te stap of te draf, veral in afgesonderde gebiede en moet waar moontlik in groepe beweeg. Inwoners, motoriste, veiligheidspersoneel en ander lede van die gemeenskap wat moontlik verdagte aktiwiteite in Rhodesfield en omliggende gebiede waargeneem het, word gevra om na vore te kom.

Die saamgestelde taakspan sal speurders van gespesialiseerde eenhede insluit, waaronder die moord-en roof-eenheid en die ondersoekende sielkunde-eenheid, asook ander relevante eenhede en hulpbronne. Die taakspan word deur genl.maj. Mbuso Khumalo, Gauteng se adjunk- provinsiale kommissaris gelei. Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, kan AO Elvis Manyike by 082 465 7249 bel.