Altesaam 49 munisipaliteite sal hul uitstaande deel van die plaaslike regering se billike geld-aandeel op die 31ste Julie ontvang, hoewel die nasionale tesourie ernstige kommer uitspreek oor finansiële bestuur en bestuurstelsels. Die billike aandeel is ‘n nasionale toekenning wat munisipaliteite gebruik om basiese dienste soos water, sanitasie, elektrisiteit en vullisverwydering aan gemeenskappe te finansier.
Enoch Godongwana, minister van finansies, sê die geld word vrygestel om te voorkom dat gemeenskappe deur onderbrekings in noodsaaklike munisipale dienste geraak word. Hy beklemtoon egter dat die besluit nie beteken die betrokke munisipaliteite voldoen aan die vereistes van die wet op munisipale finansiële bestuur (MFMA) nie.
Volgens Godongwana het die tesourie se ondersoeke voortgesette tekortkominge aan die lig gebring, waaronder swak bestuur van ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes, onvoldoende ondersoeke na finansiële wangedrag, gebrekkige dissiplinêre prosesse en swak aanspreeklikheid. Daarom was die geld vir 30 dae teruggehou. Altesaam 20 munisipaliteite het volle betaling ontvang. Hy sê 21 van die 49 munisipaliteite het reeds gedeeltelike betalings ontvang, terwyl 28 tot dusver niks ontvang het nie. Die vrystelling van die geld is volgens hom voorwaardelik en munisipaliteite sal teen streng spertye moet bewys dat hulle hul finansiële bestuur verbeter.
Godongwana waarsku dat die tesourie munisipaliteite se vordering noukeurig sal monitor en dat geld weer in Desember 2026 weerhou kan word indien daar nie voldoende verbetering is nie.
Druk hier om meer te lees.





