Brekende Nuus
Nuus

5 259 sake teen polisiebeamptes geregistreer

Foto: Ter illustrasie

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het gedurende die 2025/2026-boekjaar 5 259 sake van polisiewangedrag geregistreer. Daarvan het 332 met geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGG) verband gehou.

Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê 5 259 sake is in die boekjaar geregistreer. Die grootste aantal sake – 3 468 – het met aanranding en marteling verband gehou. Dit is gevolg deur 669 sake waar ’n amptelike vuurwapen afgevuur is en 464 sterftes weens polisieoptrede. Van die 332 sake wat met GGG en vrouemoord verband hou, was 122 verwysings van hoofsaaklik huishoudelike geweld. Daar was ook 116 sake van verkragting deur ’n polisiebeampte, 58 sake van aanranding en marteling, 24 moordsake en tien sake waar ’n amptelike vuurwapen afgevuur is.

Die 116 verkragtingsake wat in 2025/2026 geregistreer is, is ’n toename teenoor die 95 sake wat in 2024/2025 geregistreer is. Volgens Opod het 44 van die beweerde verkragtings deur polisiebeamptes plaasgevind terwyl hulle van diens was, terwyl 72 deur beamptes aan diens gepleeg is. KwaZulu-Natal het die meeste sake – 60 – geregistreer, gevolg deur Gauteng met 58, die Vrystaat met 52 en die Oos- en Noord-Kaap met 27 elk. Die Wes-Kaap het die meeste polisiewangedragsake geregistreer, met 905, gevolg deur Gauteng met 898, KwaZulu-Natal met 722 en die Oos-Kaap met 717.

Opod het gedurende die boekjaar 84 strafregtelike skuldigbevindings verkry, teenoor 43 die vorige jaar. Van die 84 skuldigbevindings was 26 GGG- en vrouemoordverwant. Teen 31 Maart 2026 was 994 sake in verskeie howe ingeskryf nadat Opod die nasionale vervolgingsgesag aanbeveel het om strafregtelike vervolging teen polisiebeamptes in te stel.