GAUTENG. – Vyf verdagtes het in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op die Regulering van Buitelandse Militêre Hulp, en meer spesifiek die konflik tussen Rusland en Oekraïene. Die saak is vir ‘n formele borgtogaansoek tot 8 Desember uitgestel.
Die vyf beskuldigdes – Nonkululeko Mantula (39), Thulani Mazibuko (24), Xolani Ntuli (47), Siphamandla Tshabalala (23) en Sfiso Mabena (21) – bly in aanhouding. Samewerking met intelligensie- en internasionale wetstoepassingsagentskappe duur voort om die volle omvang van die netwerk en enige moontlike veiligheidsrisiko’s vas te stel.
Luidens ’n verklaring van kol. Katlego Mogale van die Valke se direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke is die verdagtes deur die eenheid vir misade teen die staat in hegtenis geneem ná ’n wenk van die polisiebeamptes, wat by OR Tambo Internasionale Lughawe gestasioneer is.
’n Voorlopige ondersoek het luidens die verklaring getoon dat ’n Suid-Afrikaanse vrou glo die reis en werwing van hierdie individue na die Russiese Federasie se weermag gefasiliteer het. Die vierde verdagte is in hegtenis geneem toe sy van ’n internasionale reis teruggekeer het, terwyl die vyfde verdagte Saterdag in hegtenis geneem is.





