OOS-KAAP. – Vyf verdagtes het Maandag in verband met die moord op Deon Christiaan du Toit (60), wie se liggaam verlede Dinsdagoggend op ‘n plaas naby die R102 buite Humansdorp aangetref is, in die plaaslike landdroshof verskyn. ‘n Lewensvieringsdiens vir Du Toit is Sondag gehou.
Luidens ‘n verklaring deur polisiewoordvoerder, AO Majola Nkohli, is die verdagtes oor die naweek in hegtenis geneem. Volgens die polisie is hulle in besit gevind van items wat vermoedelik tydens die aanval gesteel is. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, huisroof en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Op die betrokke oggend is die polisie omstreeks 01:30 na ’n klagte van roof op ’n kleinhoewe langs die R102 ontbied, waar hulle die liggaam van Du Toit met beserings aangetref het. Sy identiteit is aanvanklik weerhou hangende ’n formele identifikasieproses.
Die polisie se ondersoek duur voort.
Enigiemand met inligting wat tot verdere inhegtenisnemings kan lei, word gevra om speurkaptein Smit by 071 352 4623 te bel.






