MPUMALANGA. – ’n 5-jarige meisie is Maandag veilig gevind nadat ’n man (45) haar na bewering omstreeks 16:30 in Kwazamokuhle naby Hendrina weggeneem het. Hy is glo beseer toe gemeenskapslede hom vasgetrek het en is onder polisiebewaking in die hospitaal.
Sers. Thulisile Magagula, polisiewoordvoerder, sê die meisie het saam met ’n ander kind ’n paar meter van haar ouma se erf af gespeel. ’n Buurvrou het die ouma gewaarsku nadat sy die meisie glo saam met ’n onbekende man sien wegstap het. Die man het na bewering aan familielede gesê die ouma het hom toestemming gegee om die kind saam te neem.
Magagula sê voorts familielede en gemeenskapslede het die man opgespoor. Hy het die meisie glo agtergelaat en probeer weghardloop toe hy besef mense sit hom agterna. Die meisie is in ’n oop veld gekry en die man is naby ’n rivier vasgetrek. Die Hendrina-polisie ondersoek ’n saak van ontvoering.
Lt.genl. Apaphia Modise, provinsiale polisiekommissaris, het die mense bedank wat gehelp het om die meisie veilig terug te kry en inwoners gemaan om vermeende misdaad by die polisie aan te meld.