KWAZULU-NATAL. – Die polisie in dié provinsie se noordelike grensgebiede het sedert April verlede jaar altesaam 67 gesteelde voertuie teruggevind as deel van ’n volgehoue operasie teen smokkelnetwerke. Mpumelelo Cloud Goba (45) is deur die Mtubatuba-streekhof tot sewe jaar tronkstraf gevonnis, nadat hy skuld erken het vir motordiefstal. Die helfte van sy vonnis is opgeskort.
Lt.kol. Mukhathi, polisiewoordvoerder, sê die Emanguzi-taakspan het in dieselfde tydperk ook 96 verdagtes in hegtenis geneem en 16 onwettige vuurwapens gekonfiskeer, terwyl ’n vragmotor ook herwin is. Goba is vroeër vasgetrek nadat die polisie ’n gesteelde Toyota Fortuner van meer as R700 000 met valse nommerplate onderskep het. Die voertuig was glo op pad na Emanguzi na ‘n volgende “bestuurder” om verder na Mosambiek gesmokkel te word.
Volgens die polisie wys die jongste statistiek hoe groot die probleem van voertuigsmokkel is, maar beklemtoon ook dat hul operasies ’n beduidende impak maak in die bekamping van dié misdaad.
Die Emanguzi-taakspan is in die gebied ontplooi om oorgrensmisdaad te bekamp. “Die span bly toegewyd daaraan om grensverwante misdaad in die noorde van KwaZulu-Natal en omliggende gebiede te bekamp, met spesifieke fokus op motordiefstal en -smokkel, roof, kapings, onwettige besit van vuurwapens, moord, poging tot moord en roof.”





