WES-KAAP. – Bonke Makalala, Simphiwe Matshala, Mzuvukile Mbiyo, Siyanda Dyanti, Gwendoline Mazele, Siphelele Kwaza en Simphiwe Gxumayo het Maandag in die Kaapstad-landdroshof verskyn op aanklagte van afpersing, intimidasie, ontvoering en geldwassery, wat glo teen langafstandbusoperateurs oor verskeie provinsies gerig was.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die verdagtes is in hegtenis geneem ná ’n ondersoek deur die taakspan teen taxigeweld. Die ondersoek het ’n groep individue geïdentifiseer wat na bewering saamgewerk het om geld van busmaatskappye deur dreigemente en geweld af te dwing. Volgens die staat het die groep tussen 2021 en 2023 groot bedrae geld betaal vir “beskerming” en om sonder inmenging te kan werk van busoperateurs geëis. In sommige gevalle is persone selfs onwettig aangehou om druk uit te oefen. Die ondersoek het ook betalings aan die lig gebring wat glo onder dwang gemaak is en tussen lede van die groep verdeel is.
Ntabazalila sê die sewe staan ingevolge die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad tereg op aanklagte van afpersing, poging tot afpersing, intimidasie, ontvoering, inmenging met noodsaaklike infrastruktuur, geldwassery en rampokkery. Verdere aanklagte kan nog bygevoeg word namate die ondersoek vorder.
Die saak is vir borgtoginligting en bevestiging van die adresse van drie van die beskuldigdes in die Oos-Kaap tot 7 April uitgestel. Natabazalila sê die staat sal borgtog teenstaan.
Die NVG sê die inhegtenisnemings en hofverskynings wys dat owerhede steeds toegewyd is om pendelaars en openbare vervoer te beskerm.





