NOORDWES. – Altesaam agt gesteelde hekmotors ter waarde van ongeveer R80 000 is Maandagoggend in Rustenburg teruggevind. ‘n Verdagte (34) is in hegtenis geneem.
AO Ofentse Mokgadi, polisiewoordvoerder, het bevestig dat lede van die polisie se blitspatrollie inligting ontvang het oor ’n wit BMW wat glo by hekmotordiefstalle in die gebied betrokke was. Die voertuig is opgespoor, waartydens die bestuurder glo onsuksesvol probeer vlug het. Hy is op aanklag vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem.
Tydens die ondersoek is agt hekmotors gevind wat vermoedelik kort ná middernag gesteel is, asook ’n implement wat glo gebruik is om die toestelle te verwyder. Die polisie het ook op die BMW, wat met vals nommerplate toegerus was, beslag gelê. Inwoners wat onlangs slagoffers van hekmotordiefstal was, word gevra om na vore te kom en te help om die teruggevinde items te identifiseer.
Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Rustenburg-landdroshof verskyn.





