SHREVEPORT, VSA. – Agt kinders is dood en twee volwassenes gewond in ’n massaskietery wat deur polisie as ’n “huishoudelike geweld-insident” beskryf word.
Volgens berigte deur The Guardian het die woordvoerder van die Shreveport-polisiedepartement, Chris Bordelon, Sondagaand gesê die verdagte, Shamar Elkins (31), het sewe van sy eie kinders doodgeskiet en hul ma en nog ‘n vrou gewond. Hy het ook nog ’n kind doodgeskiet.
Die lykskouiingskantoor van Caddo Parish het bevestig dat drie seuns en vyf meisies tussen drie en 11 jaar oud onder die slagoffers is. Sewe van die kinders was sibbe, terwyl een ’n neef of niggie was.
Die verdagte het glo ná die skietery in ’n gekaapte voertuig van die toneel gevlug. Polisie het hom agternagesit, waarna hy doodgeskiet is.
Volgens data oor wapengeweld is dit die dodelikste massaskietery in die VSA in meer as twee jaar.
Bronne: The Guardian, Al Jazeera





