GAUTENG. – ‘n Voormalige prokureur en senior vennoot van Fluxmans Incorporated, die 82-jarige Solomon Slom, is in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Palm Ridge tot effektief 10 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Hy is skuldig bevind aan diefstal en geldwassery van bykans R39,8 miljoen.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê Slom is op al 290 aanklagte skuldig bevind. Dit sluit 145 aanklagte van diefstal en 145 aanklagte van geldwassery in. Die hof het gehoor dat Fluxmans Incorporated in 2018 as trustagent opgetree het ingevolge ooreenkomste waarvolgens R45 miljoen in ‘n trustrekening gehou moes word totdat sekere kontraktuele voorwaardes nagekom en ‘n geskil tussen die partye afgehandel is. Die ondersoek het egter aan die lig gebring dat sowat R39,8 miljoen deur 145 bedrieglike transaksies uit die trustrekening onttrek is. Volgens die NVG is die betalings deur Slom gemagtig en na ‘n bankrekening oorgeplaas waaroor hy volmag gehad het, hoewel die rekening geen verband met enige van die partye in die ooreenkoms gehad het nie.
Die staat het verder bewys dat Slom die geld vir sy eie voordeel aangewend het, wat ‘n verlies van R39,8 miljoen vir die klaer tot gevolg gehad het. Slom is tot 10 jaar gevangenisstraf vir die diefstal en nog 10 jaar vir die geldwassery gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, wat neerkom op effektief 10 jaar direkte tronkstraf.





