Brekende Nuus
Nuus

9-jarige verdrink by Kleinmond-strandmeer

Foto: NSRI

WES-KAAP. – ’n 9-jarige seun is Saterdagmiddag dood onder die water in die strandmeer by Kleinmond se hoofstrand aangetref. Ondanks uitgebreide pogings deur noodreddingspanne en paramedici is hy op die toneel dood verklaar.

Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê NSRI-Kleinmond is om 15:12 ontbied, nadat ooggetuies ’n verdrinking by die strandmeer aangemeld het. Omstanders was besig om die kind uit die water te haal en het met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin. NSRI-medici het met die pogings voortgegaan, saam met paramedici van CMC en ER24, terwyl die Overstrand se brandweer-en-reddingsdienste, asook die polisie betrokke was.

Die seun het die strand saam met sy familie besoek. Sy liggaam is aan die polisie en die regering se forensiese patologie-diens oorhandig. Die familie ontvang ondersteuning van die polisie. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen.