Die gewilde Afrikaanse sanger, Steve Hofmeyr, het Maandag sy mening oor die konflik tussen Rusland en Oekraïne gelug.
“Die oorlog tussen Oekraïne en Rusland is vir my ‘n bitter sage.
Onder my kennisse is daar nou Oekraïners en Russe wat teen mekaar te velde trek, in Pretoria!
Om kant te kies, moes eintlik baie moeiliker gewees het.
Die VSA, EU, VN, NAVO en Rusland is vir ‘n geruime tyd algar reeds aggressors.
Rusland se obsessie met Oekraïne is histories en die res se behoefte om oos uit te brei is, myns insiens, maar onder andere, ‘n engtevrees te danke aan die VN se BREXIT-pakslae. Ek dink tog Poetin het sy hand oorspeel omdat hy tot die daad van aanvalle oorgegaan het en omdat soewereiniteite vir my heilig is. So verloor jy die morele hoëgrond gou.
Oorloë is NAVO se werk. En politieke oplossings lyk futloos. “Strawwer sanksies”, skree almal, saggies, want sanksies op die een wat sy hande op die (gas)krane het, is riskant. Poetin het geen vrees of skaamte nie en die Minsk 1- en Minsk 2-verdrae is nooit ingestel nie. Ek aanvaar dat hy al lank peuter aan sy meesterplan en dat sy plan A, B en C teenvoeters vir sanksies sal wees, soos kuberaanvalle, gasbeperkings en interessante alliansies.
Die Oekraïense alliansies reken om self die gaskrane van hulle kant af af te draai en al hul vodka in die strate uit te stort. Intussen veg Oekraïne moedig voort en Europese hulp stroom in. Onskuldiges – en die waarheid – is altyd die eerste slagoffers van oorlog. Het jy vrinne of familie daar? Wel, wees gerus, Ramaphosa en Pandor reken hulle sal dit alles oplos met net beurtkrag, twee Cesnas en ‘n oorgewig voetsoldaat. Of twee.”





