LUTZVILLE, WES-KAAP. – Bam, soos ‘n gestremde man van Uitkyk bekend gestaan het, is Sondag na ‘n gruwelike aanval deur pitbull-honde in Wandelstraat aan sy beserings dood.
Volgens kapt. Nowonga Sukwana is ‘n man (38) gebyt toe hy verby die erf waar die honde was, geloop het. Die hek van die erf was glo oop. Die slagoffer is vir mediese hulp na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. In ‘n tweede insident, ongeveer ‘n halfuur later, omstreeks 05:30, is nog ‘n man (47) gebyt. Hy het ongelukkig nie die aanval oorleef nie.
Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie. Die honde is nog dieselfde dag na ‘n veearts op Darling geneem.
Die dossiere wat geopen is, is vir besluitneming oor vervolging na die senior staatsaanklaer gestuur. Vir die eerste insident is ‘n saak van nalatige toelating/ versuim om te verhoed dat die dier ‘n persoon beseer, geregistreer. Met die tweede aanval is ‘n saak van strafbare manslag geopen.
Volgens Lutzville Diere se Facebook-blad (Surinda se honde) is Bam deur ‘n buurman se honde doodgebyt. Na bewering het vier honde mense in die straat aangeval. Volgens die blad se inligting is daar Saterdagoggend ook ‘n man gebyt, Sondagoggend weer en toe is Bam aangeval, wat aan sy beserings beswyk het.
Die plasing het weer die erns dat diere-eienaars verantwoordelikheid vir hulle diere moet neem en die noodsaaklikheid van wetgewing om hierdie tipe aanvalle te verhoed, na vore laat kom.
In die kommentaar op sosiale media is daar die diere-eienaars wat vir hul diere se regte veg en dan diegene wat voel nog een dood of aanval en trauma moes vermy kon word. Die verantwoordelikheid wat veral honde-eienaars het om voorsorgmaatreëls te tref om aanvalle deur hulle honde te vermy, word beklemtoon. Daar word ook genoem van die skok wat eienaars na so ‘n aanval beleef. Honde word verwyder en die eienaar word deur vervolging in die gesig gestaar.
Op die blad Lutzville Diere word die gemeenskap aangemoedig om by die munisipaliteit te kla oor probleme en sodanige probleme met honde by die polisie aan te meld. Indien jy of geliefdes deur honde gebyt word, maak ‘n saak by die SAPD en ondersteun die toepassing van munisipale wette.
Bronne: SAPD, Lutzville Diere
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

