KWAZULU-NATAL. Die polisie het reageer oor die vordering in die ondersoek na die moorde op kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes en sy vriend Tebello “Tibz” Motsoane.
Forbes en Motsoane is verlede jaar in Februarie buite ’n restaurant in Durban doodgeskiet.
Brig. Athlenda Mathe sê die polisie erken en verstaan die sensitiwiteit van die ondersoeke. Sy verseker die families van die oorledenes en die publiek van ontelbare ure en mannekrag wat aan die ondersoek bestee word.
In die vervolgingsgedrewe ondersoek het die spesialis-ondersoekspan saam met die direkteur van openbare vervolging gewerk en kritiese bewyse is ingesamel.
Mathe sê daar is oor die bewyse gekommunikeer en vordering is gemaak deur geïdentifiseerde verdagtes aan die saak te koppel. Sy sê verder van die verdagtes is reeds vir ander sake in hegtenis geneem.
“Nog verdagtes is aan’t vlug, maar die ondersoekspan is kort op hul hakke.”
Daar is besluit om kommunikasie oor die ondersoek te stop, aangesien die ondersoek in ‘n sensitiewe stadium is. Dit is volgens Mathe die rede waarom die families van die oorledenes beperkte inligting ontvang en sê dit is nie om die families te ondermyn nie.
“Ons sal egter poog om in die nabye toekoms hierop te verbeter.”
Volgens vorige beriggewing van verslaggewer Lelanie Swanepoel het polisieminister Bheki Cele in Desember gesê die voertuie en vuurwapens betrokke in die moordsaak is gevind. Twee ooggetuies is glo ook in beskerming geplaas. Cele het toe ook tydens ’n onderhoud gesê een van AKA se vriende het hom doodgemaak, alhoewel hy nie name genoem het nie.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





