NASIONAAL. – Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld van 2014, het met ‘n sosialemediaplasing bekendgemaak haar ouma Cora Stander is vanoggend om 03:00 oorlede.
Strauss het op 24 Desember 2024 ‘n besonderse foto van haar saam met haar ouma gedeel.
In die sosialemediaplasing het Strauss ‘n treffende gedenkboodskap aan haar ouma gemaak. Strauss vertel van haar ouma se ondersteuning toe ‘n Mej. Wêreld-klerekas aangeskaf is. Van naaldwerk tot die krap van ‘n jong rug terwyl sy by haar ouma gelê en slaap het en lang saamkuiers is van die spesiale oomblikke wat Strauss uitlig.
Toe haar ouma nie meer winkels kon besoek nie, het sy haar bankkaart saamgegee wanneer inkopies gedoen word. En sê Strauss, ouma Cora was uiters modebewus en goed versorg en wou alle detail van ‘n uitrusting en voorkoms weet.
Strauss sluit af deur te sê haar ouma het haar twee dogters met haar afsterwe by haar gehad en het na Die Here is my Herder geluister.
“Tot ons Oumie weer sien… Maar vir nou onthou ek Ouma in ‘n bakkie krummelpap met baaie suiker op, ‘n vasgewerkte knopie aan my trui, ‘n pienk roomys by die punt, en Andriette se Flower of Scotland.”
Strauss en haar man D’Niel Strauss het op 23 Januarie saam met hul seuns, een in gr. 1 en een 3 jaar oud, bekendgemaak dat sy hulle derde seuntjie verwag.
Die paar is op 6 Februarie 2016 getroud en hul eerste seun is in Januarie 2017 gebore.
Lees die volledige sosialemediaplasing hier onder:
Ons liefste liefste Ouma Cora is vanoggend 3:00 oorlede
Ons is so dankbaar vir die wonderlike tye wat ons saam Oumie kon hê Van weke lank se kuiers, wildtuin vakansies, Desembers by die see, en nog vele meer. Ouma was deel van al ons groot oomblikke…
Dit was my gunsteling om as jong dogtertjie by Ouma te gaan inkruip. Maak nie saak hoe laat dit was nie, Ouma het my ruggie gekrap terwyl Ouma se radio saggies gespeel het. Daar was nie n saliger slaap vir my nie… Dit voel soos gister wat Oumie saam my en Mamma in my Miss SA plekkie kom bly het en al my “Miss World wardrobe” klere se knope vasgewerk en some omgewerk het! Ouma se hande het altyd reggestaan vir n naaldwerkie. My hopie klere wat werk nodig gehad het, het tot onlangs nog gegroei en gegroei tot Ouma kom kuier.
Daar was min mense so lief vir n mooi ding soos Ouma Skoene, klere, serpies, jasse… Toe die asem die laaste ruk begin kort raak en die bene verswak het, was dit Oumie se kaart wat saam moes winkels toe vir ingeval ek iets mooi sien! Dan het ons dam heerlik getitiweit… Van hare was en blaas, facials, stileer, en grimmeer Ouma wou tog net nooit “uit die mode” wees of lyk nie!
Dankie dat Oumie werklik deel van ons lewens was. As Ouma nie by kon wees nie, het Ouma altyd alles uitgevra oor die foon… Waarheen gaan jy en wat het jy aan? Van onderklere, skoene, en hare! Krulle was natuurlik altyd Ouma se gunsteling .
Ouma is soooo geliefd en gaan n grooooot leemte los
Ouma Cora was mal oor musiek en het op een van haar gunsteling liedjies, “Die Here is my Herder” met haar twee liefste dogeters se stemme langs haar, haar laaste asem uitgeblaas…
Tot ons Oumie weer sien… Maar vir nou onthou ek Ouma in n bakkie krummel pap met baaie suiker op, n vasgewerkte knopie aan my trui, n pienk roomys by die punt, en Andriette se Flower of Scotland
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.