GAUTENG. – ‘n Werknemer (40) van Stalion Turbos in Vanderhoffweg, Pretoria Tuine is Vrydag omstreeks 12:05 tydens ‘n beweerde sakeroof in die maag geskiet.
Volgens AO Johan van Dyk het vier verdagtes die besigheid binnegegaan terwyl klante gehelp is. Na bewering het ‘n verdagte ‘n vuurwapen uitgepluk. Die klaagster wat die klante gehelp het, het vir haar seun, wat by haar was, gesê om onder die toonbank weg te kruip. Selfone, ‘n 9 mm-Glock met ‘n magasyn en rondtes, ‘n onbekende bedrag geld en die sleutel van ‘n Nissan Tiida, is gebuit. Die verdagtes het in ‘n wit Toyota Etios van die toneel gevlug.
‘n Werknemer wat met die verdagtes baklei het, is in die maag geskiet en is met ‘n Netcare 911-helikopter na Milpark-hospitaal in Johannesburg gevlieg.
Pro Med Emergency Medical Services is vir mediese hulp na die skietvoorval ontbied. Weens die ernstige aard van die beserings is ‘n Netcare911-helikopter geaktiveer om die pasiënt na ‘n gespesialiseerde hospitaal te vlieg.





