Pedofiel van Oos-Kaap sit 14 jaar

Lees ook :

Lucas William Rudman is tot 14 jaar gevonnis. Foto's: Ectour en Facebook

SOMERSET-OOS, OOS-KAAP. – Lucas William Rudman (66) is Vrydag in die Makhanda-hooggeregshof tot veertien jaar effektiewe tronkstraf gevonnis. Die vonnis is opgelê vir tien klagtes waaronder mensehandel, verkragting en seksuele aanranding.

Rudman, ’n selfverklaarde pastoor, is tussen Mei en Oktober 2021 op sosiale media ontbloot vir die seksuele uitbuiting van minderjarige meisies. Volgens AO Ndiphiwe Mhlakuvana, die Valke se woordvoerder, is die minderjariges na Rudman se huis in Somerset-Oos met geskenke, selfone, kos, alkohol en sigarette gelok.

Na sy aanvanklike inhegtenisname in Oktober 2021 het dit aan die lig gekom dat hy die meisies gemolesteer en verkrag het terwyl hulle onder die invloed van alkohol en dwelms was. Hy is destyds op borg van R1 000 vrygelaat.

Die saak is in 2022 na Gqeberha se ondersoekspan vir ernstige en georganiseerde misdaad wat op mensehandelsake fokus, verwys.

Volgens berigte is Rudman in 2012 op soortgelyke aanklagte op De Aar in die gesig gestaar nadat hy glo met ’n 12-jarige meisie in ’n verhouding was.

’n Anonieme jongman wat tydens sy tienerjare geestelike leiding by Rudman ontvang het, het aan Nuusflits vertel Rudman het ’n sterk geestelike teenwoordigheid gehad. “Hy is een van die redes waarom ek so baie in die gees gegroei het. Ek glo vas dat die oom Lucas wat ek ken, nie ’n pedofiel of enige so iets is nie.”

Adj.genl. Mboiki Obed Mgwenya van die Valke het Rudman se swaar straf verwelkom.

Bronne: SAPD, Algoa FM, Herald Live

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief