KAAPSTAD, WES-KAAP. – Twee stappers is Maandag vanaf Tafelberg gered nadat reddingspanne Sondagaand op ’n noodoproep reageer het.
Nagenoeg 50 mense het die reddingsoperasie van ’n man (28) en sy tannie (53) van KZN behartig. Hulle is vanaf die Platteklip-kloof na die voet van die berg begelei. Die stappers het om 20:00 Sondagaand die noodnommer geskakel toe hulle besef hulle is nie in staat om teen die berg af te beweeg nie.
Die man het glo agt uur geneem om van die berg te beweeg terwyl sy tannie deur reddingswerkers na onder gedra is. Hy kon egter net tot op ’n sekere punt vorder voordat hy ook op ’n draagbaar gelaai moes word.
’n Groep tweedejaarstudente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie het die reddingswerkers bygestaan.
Nadat die reddingspan die nag saam met die stappers op die berg deurgebring het, is hulle uiteindelik om 17:00 Maandagmiddag na veiligheid gebring.
Bronne: Wilderness Search and Rescue Western Cape, SANParks – Table Mountain National Park





