LIMPOPO. – ‘n Verdagte man (52) is gister vir die beweerde besit van kinderpornografie en ‘n tweede verdagte man (23) vir die beweerde besit van ammunisie afsonderlik in ‘n parkeerarea van die Polokwane Cycad-sentrum en op die plaas Roodepoort in hegtenis geneem.
Kol. Malesela Ledwaba sê die verdagte wat glo in besit van kinderpornografie was, is omstreeks 08:00 in die parkeerarea vasgetrek. Daarna is die tweede verdagte op die plaas waar beide woon in hegtenis geneem.
Limpopo se provinsiale GKS-eenheid wat met SECI (Serial Electronic Crime Investigations) werk, het inligting oor die verdagte wat glo in besit van kinderpornografie is, ontvang. Die inligting is deur verskeie eenhede opgevolg, waarna die ouer verdagte in die parkeerarea in hegtenis geneem is. Op die plaas is die huis van die verdagte deursoek en ammunisie is glo in die jonger verdagte se kamer gevind.
Die polisie het op onder meer geweerammunisie, haelgeweerrondtes, leë doppies, ‘n panga en messe beslag gelê.
Die verdagtes sal na verwagting môre in die Polokwane-landdroshof verskyn.




