WES-KAAP. – ’n 16-jarige seun het Dinsdag op 11 aanklagte, waaronder seksuele aanranding, seksuele uitbuiting van kinders en die verspreiding en besit van kinderpornografie in die Malmesbury-landdroshof voorgekom. Die saak is tot Donderdag uitgestel vir die mediese uitslag deur ‘n distriksgeneesheer, terwyl die seun in aanhouding bly.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die aanklagte sluit ook gedwonge seksuele selfaanranding, die vertoon van pornografie aan ’n kind, dieremishandeling en ’n databoodskap in waarin persone met geweld of skade aan eiendom gedreig word.
Lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, sê die hofverskyning spruit uit Maandag se inhegtenisneming van die tiener. Die verdagte word volgens die polisie vermoedelik met internasionale ekstremistiese netwerke verbind wat met kinderuitbuiting verband hou. Toestelle waarop eksplisiete beelde en video’s gevind is, is tydens die ondersoek gekonfiskeer.




