WES-KAAP. – ‘n Man (71) en vrou (68) is Sondagoggend, omstreeks 02:00, in hulle huis op die plaas Kleinplasie in die Lutzville-area glo deur onbekende verdagtes oorval, aangerand en vasgebind.
Sers. Wesley Twigg sê die verdagtes het met persoonlike besittings van die egpaar gevlug.
Lutzville-polisiestasie ondersoek ‘n saak van huisroof. Die omstandighede van die insident word ondersoek en geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand wat inligting oor die insident het, word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.
Volgens sosiale media is die plaas tussen Lutzville en Koekenaap. Die egpaar is na bewering deur vier verdagtes aangerand en in ‘n kamer toegesluit. Die huis is glo geplunder en die verdagtes het te voet met onder meer geld, selfone en ander items gevlug.





