DA eis ‘watergeregtigheid’ vir Kimberley

Lees ook :

DA eis watergeregtigheid vir Kimberley
DA eis watergeregtigheid vir Kimberley fotokrediet: Canva

*PERSVERKLARING

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Donderdag kriminele klagte by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gelê weens Sol Plaatje-munisipaliteit se voortdurende versuim om basiese watervoorraad aan inwoners te voorsien.

Die klagtes is deur rdl. Ockie Fourie, wat die DA op die nutskomitee verteenwoordig, en rdl. Chris Whittaker, wat die DA op die finansiële komitee verteenwoordig, gelê.

Rdl. Fourie en rdl. Whittaker het gesê: “Sol Plaatje is dalk nie ernstig oor hul pligte ingevolge die Wet op Waterdienste en die Nasionale Waterwet nie, maar die DA is.”

” Ons klagtes is gebaseer op die bewese feit dat Sol Plaatje tans versuim om inwoners se reg tot basiese watervoorraad te beskerm en versuim om doeltreffende, bekostigbare toegang tot waterdienste vir inwoners te bied. Ons glo ook dat die SAPD ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur ondersoek moet instel na wanbesteding van fondse wat vir die herstel en instandhouding van infrastruktuur toegewys word.”

“In 2021 is R500 miljoen toegewys, met ‘n bykomende R1.9 miljard wat in 2023 toegewys is. Die situasie is egter besig om te versleg eerder as om te verbeter. Dit skep vrae oor die kriminele misbruik van geld wat vir dienslewering bedoel is.”

“Daar was in die 27 maande sedert November 2021 minstens elf beplande en noodonderbrekings van munisipale watertoevoer. Dit sluit vyf noodonderbrekings net in die vier maande van Oktober 2023 tot Januarie 2024 in.”

Saam met die chaos wat deur voortslepende wateronderbrekings veroorsaak word, is inwoners nou ook met die ongerief van wateropskortings tydens die dag én die nag opgesaal. Selfs al bly die munisipaliteit by die tye wat vir dié wateropskortings gegee word, bring dit mee dat inwoners vir veertien uit elke vier-en-twintig uur sonder toegang tot water sit.”

“Dit kan nie so voortgaan nie. Lewenskoste bly styg en twee uit elke vyf mense in die Noord-Kaap sukkel om werk te kry, wat beteken dat Jan Publiek nie kan bekostig om telkemale water te koop nie.”

“Onbetroubare watervoorsiening maak sake ook onnodig moeilik vir besighede, skole, klinieke en sorgfasiliteite vir bejaardes of persone met gestremdhede. Die kriminele klagte is die volgende tree in ‘n voortdurende proses om inwoners se reg tot water te beskerm. As DA-raadslede spreek ons hierdie kwessies in die raad aan. Ons het in 2021 reeds klagtes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gelê en in 2022 die openbare beskermer genader.”

“Die DA het herhaaldelik met die provinsiale regering in gesprek getree en selfs die kwessies verwys na die president, die adjunkpresident, die nasionale minister van water & sanitasie, en die nasionale minister van samewerkende regering. In Februarie vanjaar het ons ook ‘n gemeenskapsoptog na die munisipaliteit gelei om ‘n versoekskrif te oorhandig waarin ons redelikerwys versoek dat inwoners toegang tot water verdien.”

“Die veertien dae wat ons die munisipaliteit gegee het om te antwoord, is verby sonder dat ons enige reaksie gekry het. Die manier waarop Sol Plaatje inwoners van hul reg tot water beroof, is absoluut krimineel. Dit kan nooit aanvaar of genormaliseer word nie, maar moet ondersoek word. “

*PERSVERKLARING

Lees ook: Watch the DA march to legislature

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief