Aanhangers van The Sims kan maar opgewonde raak, want daar word binnekort ’n fliek gemaak wat op dié speletjie gebaseer is.
LuckyChap, ’n filmvervaardigingsmaatskappy, het aangekondig hulle het met beplanning vir die fliek begin. Hulle het onlangs die Barbie-fliek vervaardig.
Margot Robbie, Tom Ackerley, Josey McNamara en Sophoa Kerr is aan die stuur van LuckyChap. Margot Robbie, wat die hoofrol in Barbie vertolk het, speel in die meeste van LuckyChap se produksies. Die moontlikheid is na bewering groot dat sy in die Sims-fliek ook te sien gaan wees.
The Sims is in 2000 uitgereik. Die speletjie fokus op ’n virtuele wêreld waar gebruikers hulle eie karakters bou en hulle lewens beplan en uitspeel.
Die rolverdeling vir die beplande fliek is nog nie aangekondig nie.
Bronne: Variety, ScreenRant





