Video van die ongeluk in berig. Waarskuwing: die video kan sensitiewe lesers ontstel.
KWAZULU-NATAL. – Sibusiso Siyaya (30) is direk tot 20 jaar tronkstraf in die hooggeregshof in Pongola gevonnis. Hy is die vragmotorbestuurder wat op 16 September 2022 ‘n ongeluk met ‘n bakkie gemaak het waarin 20 persone dood is.
Natasha Ramkisson-Kara sê Siyaya is skuldig aan 20 moorde, roekelose en nalatige bestuur en die versuim om die pligte van ‘n bestuurder na ‘n ongeluk uit te voer.
Siyaya het vir ‘n maatskappy steenkool vir uitvoer van Mpumalanga na Richardsbaai vervoer. Op die betrokke dag het hy roekeloos bestuur en dikwels verskeie voertuie oor die middel van die dubbele versperring en in aankomende verkeer verbygegaan. Aankomende voertuie moes uitswaai om ‘n botsing te vermy. Hy het met die bakkie gebots waarop 20 passasiers, tussen 5 en 28, was. Die meeste was kinders onderweg skool toe. Al die insittendes van die bakkie is in die ongeluk dood. Siyaya het van die toneel gevlug en is ‘n dag later in hegtenis geneem.
Buiten getuies is die aanboord CCTV-kamera-opname en GPS-bewyse saam met meganiese bewyse in die hof gebruik. Slagofferimpakverklarings is ook aan die hof voorgehou. Een vrou het al haar kinders in die ongeluk verloor. Nog ‘n vrou het drie kinders verloor.
Siyaya is tot 14 jaar tronkstraf gevonnis omdat al die moorde tydens een aksie gepleeg is, drie jaar vir roekelose en nalatige bestuur en ses jaar omdat hy versuim het om die pligte van ‘n bestuurder na ‘n ongeluk uit te voer. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en daarvoor is hy vir 20 jaar gevonnis. Sy bestuurderslisiensie is ook gekanselleer.
Die NVG verwelkom die vonnis.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
KWAZULU-NATAL. – Sibusiso Siyaya is skuldig bevind nadat die vragmotor wat hy op 16 September 2022 bestuur het ‘n bakkie op die N2-hoofweg getref en skoolkinders, sowel as volwassenes, gesterf het.
Natasha Ramkisson-Kara sê Siyaya is Dinsdag skuldig bevind op 20 aanklagte van moord, roekelose en nalatige bestuur, sowel as versuim om die pligte van ‘n bestuurder na ‘n ongeluk uit te voer.
Siyaya het met die vragmotor in die aankomende baan gery en verskeie voertuie verbygesteek, waarna hy die bakkie met skoolkinders getref het. Al die insittendes van die bakkie is oorlede.
Die vonnisoplegging vind vandag plaas.
Nuusflits het voorheen berig die skoolkinders was tussen vyf en 12 jaar oud. Die liggame van die kinders het wyd oor die toneel versprei gelê. Twee volwassenes was onder die oorledenes.
Video-opname: Leandro de Beer





