GAUTENG. – Michael Johan von Backström (75) is aangekla van dieremishandeling nadat hy na bewering verskeie rondloper- en huiskatte by ’n lodge in Silver Lakes, Pretoria, met ’n haelgeweer doodgeskiet het.
Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) sê die voorval het op 26 Maart plaasgevind. Juanita Cronje, ’n ooggetuie, het beweer dat die man ’n vuurwapen op haar gerig en gedreig het om haar te skiet, voordat hy een van die katte in haar teenwoordigheid doodgeskiet het. Die voorval het groot reaksie op sosiale media ontlok en gelei tot die stigting van die “Justice for Pretoria Cats”-beweging. ’n Petisie is volgens SSS deur 4 028 mense onderteken en betogings het onder meer buite die Garsfontein-polisiekantoor plaasgevind. Von Backström het dit openbaar gemaak dat sy besighede skade gelei het met kansellasies en negatiewe beoordeling.
SSS sê ’n aanvanklike polisiesaak is teruggetrek sonder dat aanklagte ingestel is. Die organisasie het daarna die DBV genader, waarna ’n afsonderlike saak van dieremishandeling by Boschkop-polisiekantoor, geopen is. Von Backström is op 31 Julie in hegtenis geneem en het op 4 Augustus in die Pretoria-landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel.
Volgens die dierebeskermingswet kan persone wat aan dieremishandeling skuldig bevind word, onder meer ’n boete of gevangenisstraf opgelê word en ongeskik verklaar word om diere aan te hou.





