VRYSTAAT. – ’n 36-jarige vrou is na bewering Dinsdag deur haar 40-jarige voormalige kêrel in Tweeling doodgeskiet. Die verdagte is daarna in ‘n skietgeveg met die polisie dood.
Brig. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die vrou het voor 18:00 klaar gewerk en het gestap, waarna sy glo in ’n wit voertuig geklim het, sonder om te weet dat haar voormalige kêrel binne-in is. Toe sy in 10de Straat uitklim, het die verdagte haar glo gegryp en van naby in die kop geskiet, voordat hy in die rigting van Reitz gevlug het. Die publiek het die polisie ontbied, waarna die verdagte agternagesit is.
Die verdagte is later raakgesien terwyl hy probeer het om ‘n saamrygeleentheid te kry. Hy het na bewering op ’n ongemerkte Mahindra-polisievoertuig afgestap. Nadat hy ‘n tweede polisievoertuig en polisiebeamptes opgemerk het, het hy sy vuurwapen uitgehaal en op hulle geskiet. Die beamptes in die Mahindra het teruggeskiet en hom noodlottig gewond. ‘n Moordsaak word deur die polisie ondersoek, terwyl ’n geregtelike doodsondersoek oor die verdagte se dood geregistreer is. Opod ondersoek die man se dood.
Lt.genl. Thabang Lesia, die provinsiale polisiekommissaris, het die moord veroordeel en inwoners, veral slagoffers van huishoudelike geweld, aangemoedig om dreigemente, intimidasie en mishandeling vroegtydig aan te meld.





