OOS-KAAP. – Twee lyfwagte van ‘n vermeende Mhlontlo- munisipale werknemer is Vrydag omstreeks 15:00 by ‘n voertuigkontrolepunt (VCP) op die N2, met vuurwapens waarvan reeksnommers afgevyl is, betrap.
AO Majola Nkohli sê inligting is ontvang en ‘n operasie is geloods. ‘n Mercedes-Benz wat aan die inligting se beskrywing voldoen, is tussen Qumbu en Mthatha gestop.
Die vrou in die voertuig, wat vermoedelik vir Mhlontlo-plaaslike munisipaliteit werk, het gesê die twee mans in die voertuig is glo haar lyfwagte. Twee ongelisensieerde vuurwapens is glo in besit van die mans, onderskeidelik 30 en 33 jaar oud, gevind.
Die vrou is ondervra, maar is later laat gaan. Die twee mans sal Maandag op aanklagte van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie in die Tsolo-landdroshof verskyn.





