KAAPSTAD. – ’n Reeks vermoedelike diefstalle van kaartmasjiene het handelaars in Kaapstad op hoë waaksaamheid geplaas. Die voorvalle, wat glo in die Kaapstadse SBD, Wynberg en Athlone-gebiede plaasgevind het, behels na bewering ’n verdagte wat gemaklik in spazawinkels instap en dan glo net die kaartmasjiene vat.
Laasnag is twee verdere diefstalle aangemeld, een in Vredehoek en nog een in Walmer Estate. Volgens ‘n bron wat met Nuusflits gepraat het, bevestig video-opnames van die betrokke winkels dat dieselfde individu op die video’s gesien kan word.
Die werkswyse behels glo dat die kaartmasjiene gebruik word om koopbewyse te koop, wat dan op dobbel-apps gewissel word. ‘n Bron het daarop gewys dat registrasie op hierdie apps persoonlike identifikasie vereis. Slegs die polisie het egter die gesag om hierdie inligting aan te vra.
Handelaars word aangemoedig om waaksaam te bly en enige verdagte aktiwiteit of verlore kaartmasjiene onmiddellik aan te meld.
Nuusflits het ’n navraag by die polisie ingesit.





