Bobby van Jaarsveld se fluweelstem streel met ‘n lewendige liefdesballade genaamd Lief My Weer Lewendig wat Vrydag vrygestel is.
Fanie Nel van Coleske Artist Management sê die liedjie, wat deur Johan Oberholzer geskryf is, gaan oor liefde wat mens lewendig maak, ongeag in watter tipe verhouding dit is.
Die sanger, wat aanhangers op verhoë dwarsoor Suid-Afrika bekoor en onlangs na ‘n afwesigheid na die musiekbedryf teruggekeer het, hoop die liedjie sal goed ontvang word.
“Ek het lank terug ’n dansliedjie uitgebring en die mark is nogal lus vir ’n bietjie dans deesdae.”
Van Jaarsveld se mening is hy kan die liefde in die liedjie beskryf as die liefde wat alles bedek. Hy spreek die hoop uit dat die persoon wat na Lief My Weer Lewendig luister of die persoon vir wie dit gespeel gaan word die boodskap agter die liedjie sal hoor.
“Ek dink mense sal dit kan speel vir die persoon vir wie hulle lief is. Vir my voel die liedjie ook geestelik, want ek kan die liedjie sing vir God. Sy liefde maak my weer lewendig oor en oor en oor so baie keer. Ek dink almal kan verstaan waaroor die liedjie gaan. Partykeer bevind ons onsself in donker, vreemde plekke, maar liefde bedek alles.”
Nel sê Van Jaarsveld wil nie nou al te veel oor die musiekvideo wat deur Gerduan Kemp verfilm gaan word, verklap nie. Maar vir eers is daar wel ‘n video wat saam met die liedjie geniet kan word.
Van Jaarsveld sal vanaf 9 Augustus in die Showmax-komedie Eksie Perfeksie te sien wees.
“Ek geniet dit vreeslik om my lyf akteur te hou en ek is so dankbaar vir al die geleenthede wat oor my pad kom.”
En wat is daar wat vir Van Jaarsveld na byna twee dekades in die musiekbedryf uitstaan?
Die mense wat hy ontmoet en die legendariese oomblikke wat hy reeds beleef het.
“Die groot hoogtepunte sal altyd die publiek wees wat na die shows toe kom en my ondersteun. Ná 20 jaar in die bedryf, sedert my eerste album, is ek steeds dankbaar vir elkeen wat my reis deel.”
Lief My Weer Lewendig is nou op alle stroomdienste beskikbaar en kan hier gevind word.





