GAUTENG. – Die Stad Tshwane het Vlak 1-waterbeperkings vir sy inwoners en besighede ingestel. Die beperkings is ingestel om te keer dat die reservoirs droogloop en ‘n watertekort veroorsaak.
Waterverbruik in Tshwane het vermeerder, alhoewel 80 m. liter per dag van Rand Water ontvang word. Die departement van water en sanitasie het munisipaliteite in Gauteng versoek om strenger waterbeperkings in te stel.
Diegene wat nie aan die beperkings gehoor gee nie en moontlik die ineenstorting van die verspreidingsnetwerk veroorsaak, sal beboet word.
Geen natlei of besproeiing van tuine word tussen 06:00 en 18:00 toegelaat nie. Tuinslange mag nie gebruik word om voertuie, opritte en stoepe skoon te spuit nie. Swembaddens en waterfonteine mag nie van munisipale water volgemaak word nie en kan slegs hervul word indien daar ‘n swembadseil oor is.






