KWAZULU-NATAL. – Twee vermeende transitorowers, wat ‘n mees gesoekte vermeende meesterbrein (55) van transitorooftogte insluit, is Vrydagaand in New Glasgow, Verulam, doodgeskiet.
Kol. Robert Netshiunda sê die polisie het tydens ‘n intelligensiegedrewe operasie vir die bestuurders van twee geïdentifseerde verdagte voertuie aangedui om te stop. Daar is uit ‘n silwerkleurige sedan op die polisie geskiet, terwyl ‘n wit enkelkajuitbakkie weggejaag het. Die polisie het teruggeskiet en twee verdagtes noodlottig gewond. ‘n Pistool en geweer is in die verdagtes se besit gevind.
“Voorlopige ondersoeke het bevestig dat die geweer tydens ‘n transitorooftog in Augustus 2024 in Verulam gesteel is. Die pistool, waarvan die reeksnommer uitgewis is, is ‘n vuurwapen wat deur die polisie uitgereik is.”
Netshiunda sê ‘n lasbrief vir inhegtenisneming is in Mei vanjaar in die Newcastle-landdroshof vir die 55-jarige oorledene op aanklagte van sameswering om ‘n transitoroof te pleeg, uitgereik. Die oorledene is met ten minste 23 sake van transitorooftogte verbind.
“‘n Mannejag om die verdagtes wat ontvlug het te arresteer, is geloods,” het Netshiunda gesê.





