GAUTENG. – Nkosinathi Emmanuel Phakathi (40) is 42 keer lewenslank en 791 jaar en ses maande direkte tronkstraf vir onder meer 94 aanklagte van verkragting deur die hooggeregshof in Palm Ridge opgelê.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Phakathi is onbevoeg om ‘n vuurwapen te besit en sy naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders en die nasionale register vir kinderbeskerming aangebring word.
“Die regter het verder beveel die slagoffers moet ingelig word wanneer Phakathi vir parool oorweeg word, om hulle in staat te stel om vertoë te rig.”
Phakathi is op 8 November 2022 skuldig bevind op 90 aanklagte van verkragting, vier aanklagte van gedwonge verkragting, drie aanklagte van ‘n kind wat gedwing word om ‘n seksuele daad te aanskou, 43 aanklagte van ontvoering, twee aanklagte van aanranding en vier aanklagte van diefstal.
Mahanjana sê Phakathi het aanvanklik 203 aanklagte teen hom gehad, maar die staat het 55 kleiner aanklagte teen hom teruggetrek. Hy het in die hof op 148 aanklagte skuldig gepleit.
“Phakathi het hierdie misdrywe vanaf Junie 2012 tot Maart 2021 in en om Ekurhuleni gepleeg. Die meerderheid van sy slagoffers was skoolgaande kinders, die jongste was nege jaar oud, terwyl die oudste ‘n 44-jarige vrou was.”
“Hy het van sy slagoffers in die teenwoordigheid van kinders verkrag, in sommige gevalle meer as een persoon op ‘n slag. Hy het die een laat kyk terwyl hy die ander een verkrag het, waarna hy sou weghardloop of die huis verlaat.”
Phakathi is deur DNS aan van die sake gekoppel en op ander op ‘n modus operandi-verslag. Ná inhegtenisneming het Phakathi drie jaar en ses maande in aanhouding deurgebring terwyl hy vir die afhandeling van die saak gewag het. Hy is tydens inhegtenisneming geskiet en het sy been verloor.
Die NVG het die vonnis verwelkom.





