GAUTENG. – Twee sekswerkers wat ‘n kliënt (29) in sy huis in Sandton vermoor het, is lewenslank vir moord, 15 jaar vir roof en vir diefstal ses maande deur die hooggeregshof in Johannesburg gevonnis. Die slagoffer is met ‘n selfoonkabel verwurg.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê op die betrokke aand van 13 April 2019 het Refilwe Mokgotlo (29) en Julia Rihlampfu (33), haar mede-beskuldigde, van Pretoria na ‘n kroeg in Fourways gereis waar hulle na kliënte gesoek het. Hulle dienste is omstreeks 03:00 deur die oorledene aanvaaar, waarna daar na sy huis in Sandton gegaan en geëet is.
Tydens seksuele omgang met Mokgotlo het ‘n woordewisseling ontstaan, terwyl Rihlampfu in ‘n ander vertrek was. Mokgotlo het die oorledene met ‘n selfoonkabel verwurg. Nadat die oorledene se pa hom nie telefonies kon bereik nie, het ‘n vriend ondersoek ingestel en sy liggaam op die grond aangetref. ‘n Video-opname van die kompleks het gewys hoe die oorledene en vroue sy huis binnegaan. Die vroue het later die huis verlaat. Daar was buiten die koord om sy nek ook bankkwitansies op die bed. Vingerafdrukke op die toneel het met dié van die twee vroue ooreengestem.
Evelyn Moseki, senior staatsadvokaat, het getuig die vroue het misbruik van die oorledene se goedheid gemaak nadat hulle na sy huis genooi en kos gegee is. Moseki het voorts gesê die oorledene is brutaal doodgemaak en net so gelaat.
“Die hof het met die staat se standpunt saamgestem en opgemerk dat die twee vroue ‘n skokkende gebrek aan berou getoon het.”
Die vonnis is verwelkom.





