OOS-KAAP. – Twee beweerde kapingsverdagtes is Saterdagaand na ‘n hoëspoedjaagtog met die polisie gearresteer nadat hulle ‘n ongeluk gemaak het en ‘n kapingslagoffer in die voertuig se kattebak ontdek is.
Kapt. Sandra Janse Van Rensburg sê polisielede was omstreeks 23:20 in Mahambahlala besig met patrollie toe ‘n wit VW Polo met vyf insittendes opgemerk is. Die lede wou die voertuig vir deursoeking in Seyisistraat in New Brighton aftrek, toe dit teen ‘n hoë snelheid weggejaag het. Die polisie het gevolg en hulp van ander patrollievoertuie ontbied.
By die verkeersirkel by Mavusostraat, M17 en Seyisistraat het die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en in die muur by die sirkel vasgery. Drie verdagtes het uitgespring en al skietende op die polisie, gevlug. Een van die verdagtes met ‘n vuurwapen is deur die polisie vasgetrek. Nog ‘n verdagte was in die Polo-wrak vasgekeer en is gearresteer. Terwyl die polisielede op die toneel besig was, het hulle geluide uit die kattebak gehoor. ‘n Man het uit die kattebak tot op die agtersitplek van die Polo gekruip en die polisielede ingelig hy is gekaap.
Die verdagtes sal na verwagting vandeesweek op aanklagte van kaping, ontvoering en die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie in die New Brighton-landdroshof verskyn.
Twee verdagtes het weggekom.






