VRYSTAAT – Vyf familielede is glo Maandagaand in hulle huis in Amelia, Zamdela, oorval en ontvoer. Die familie is later ongedeerd gevind en twee verdagtes is in hegtenis geneem.
Só bevestig kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder. Earle sê ‘n man (63) en sy gesin het omstreeks 23:00 geslaap toe vier gewapende verdagtes by ‘n deur ingebreek en in sy kamer opgedaag het, waar hulle geld geëis het. Die man, sy vrou (55) en hul drie volwasse kinders is na die sitkamer geneem, waar hulle selfone gesteel is. Die aanvallers het banktoepassingsinligting geëis en groot bedrae geld na hul eie rekeninge oorgeplaas. Die gesin is daarna vasgebind en kussingslope is oor hul koppe getrek. Hulle is in twee voertuie gelaai (waarvan een aan die familie behoort het) en na ‘n RDP-huis in Orange Farm, Johannesburg, geneem.
Dinsdag omstreeks 10:00 het die polisie ‘n klagte van kinderverwaarlosing by die gesin se huis ontvang en besef dat ‘n roof en ontvoering moontlik plaasgevind het. Verskeie polisiedienste het die saak ondersoek en die gesin se verlate voertuig in Driezek, Orange Farm, opgespoor. Omstreeks 12:50 is die gesin ongedeerd naby die Driezek-plakkerskamp vrygelaat.
Earle sê dat die polisie daarna die RDP-huis waar die gesin oornag was, besoek het en twee verdagtes gearresteer het.
“Ondersoeke duur voort en verdere arrestasies word verwag. Die twee verdagtes, onderskeidelik 26 en 58 jaar oud, sal binnekort in die Sasolburg-landdroshof op aanklagte van huisroof en ontvoering verskyn,” het sy gesê.





