NOORDWES. – Die verdagtes wat in die Brits-landdroshof voorgekom het nadat ‘n vrou (64) op 7 November in ‘n plaasaanval op die plaas Wildebeesfontein in Kameeldrift naby Brits met ‘n vuurwapen oor die kop geslaan en vasgebind is, se saak is uitgestel.
Kol. Adéle Myburgh sê die saak van huisroof en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie teen Loyd Ngobeni (31), Mark Ratau (40) en Alex Tivan (22), ‘n Mosambieker, is tot Woensdag uitgestel. Al drie bly in aanhouding.
Die verdagtes het op die betrokke oggend toegang tot die huis forseer terwyl die vrou geslaap het. Sy is met ‘n vuurwapen aangerand en met skoenveters en maskeerband vasgebind. Die verdagtes het die huis vir onder meer klere, juwele, gereedskap en selfone geplunder.
Die eienaar van die Volkswagen Polo wat in die misdaad gebruik is, is opgespoor en daar is vasgestel die voertuig is aan Ngobeni geleen. Ngobeni is Maandag in Mamelodi-Oos in die ooste van Pretoria in hegtenis geneem. Die polisie het op gesteelde items en die Polo beslag gelê. Tivan en Ratau is in die Assen-gebied gearresteer. Van die gesteelde items is by Tivan gevind en ‘n 9 mm-pistool, waarvan die reeksnommer verwyder is, is in Ratau se besit gevind.



