KWAZULU-NATAL. – ‘n Vermiste huurder se liggaam is Vrydagoggend in ‘n kombers toegedraai onder ‘n bed in Ridgestraat, Umhlanga UIP, ontdek.
Tyron Powell, woordvoerder vir Marshall Security, sê die diens is omstreeks 08:40 gekontak. ‘n Inspekteur van Urban Improvement Precinct (UIP) is deur ‘n inwoner voorgekeer nadat ‘n slegte reuk van die huurder se kamer geruik is. Reaksiebeamptes het die UIP-inspekteur en ander veiligheidsmaatskappye op die toneel aangetref. Tydens ‘n inspeksie van die perseel is die huurder se liggaam in komberse onder die bed ontdek.
Die oorledene was tot groot bekommernis van sy familie sedert Saterdag vermis. Sy motor, ‘n Mercedes-Benz, is ook vermis.
Powell sê Durban Noord-polisie was teenwoordig en ondersoek die huurder se verdagte dood.





