VRYSTAAT. – Pesa Pheko (37), ‘n kunstenaar, is sedert 10 Julie vermis. Die polisie het ‘n deurbraak gemaak en ‘n vrou (34) en ‘n man (39) vir beweerde sameswering om ‘n moord te pleeg, in hegtenis geneem.
Volgens Free State World is Pheko se vrou een van die gearresteerdes.
Sers. Mahlomola Kareli sê die deurbraak het gekom nadat nuwe bewyse aan die lig gekom het wat moontlik kan verduidelik wat met Pheko gebeur het. Kareli sê die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid het aan die saak gewerk totdat die paar in hegtenis geneem is.
Die kustenaar is onder meer die besturende direkteur by Botshabelo Art Culture & Heritage Centre.
Pheko is die laaste keer deur sy familie gesien toe hy die huis in L-seksie met openbare vervoer na Bloemfontein verlaat het om ‘n hospitaalafspraak na te kom en het nooit teruggekeer huis toe nie. Hy was in ‘n groen baadjie, swart denimbroek, swart seilskoene en ‘n grys top geklee.
Sy familie het hom by Botshabelo-polisiestasie as vermis aangemeld, waarna ‘n onsuksesvolle soektog na hom onderneem is.
Die verdagtes sal vandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om kapt. Sego by 078 184 9105 te bel.


