NOORDWES. – Nadat verhoorafwagtendes Sondag uit Swartruggens-polisiestasie se aanhoudingselle ontsnap het, is Mpho Vincent Madito (29) weer Dinsdag en Johannes Mfaladi (28) Woensdag in hegtenis geneem.
Kol. Adéle Myburgh sê inligting is Dinsdagoggend omstreeks 08:30 opgevolg, waarna Madito op ‘n bus, onderweg na Rustenburg, vasgetrek is. Madito verskyn vandag (Donderdag) op ‘n aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die Swartruggens-landdroshof.
Woensdagaand is inligting omstreeks 18:00 opgevolg, waarna Mfaladi, wat op ‘n plaas in Swartruggens-omgewing weggekruip het, weer gearresteer is. Mfaladi sal Vrydag vir ‘n klag van ontsnapping uit wettige aanhouding in die Swartruggens-landdroshof verskyn. Mfaladi was oorspronklik op ‘n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer in aanhouding.
Myburgh bevestig Thapelo Mogwele Molebatsi (25), wat oorspronklik vir diefstal aangehou is, is steeds voortvlugtig.
Enigiemand met inligting waar Molebatsi hom tans bevind, kan kapt. Peterson Monageng by 0082 569 8568 bel.





